Jare lank al neul Solidariteit en AfriForum by Amerika om Afrikaners as slagoffers te beskou, maar eers met ’n malletjie in die Withuis kon dit gebeur. Nou moet ons ander Afrikaners inspring en wys ‘ons is nie almal so nie’.
Read the English translation here.
Howdy, aspirant-vlugtelinge! Ons is terug by 16 Junie 1976, toe die wit Afrikaner die mees gehate spesie hier aan die suidpunt van Afrika was.
Dertig jaar nadat Afrikanerleiers ’n vreedsame oorgang na demokrasie met die ANC beding het — en Afrikaners weer materieel en kultureel begin floreer het — is ons Afrikaners weer die muishonde.
En wie moet ons bedank? AfriForum en Solidariteit, en al diegene wat dié beweging se macho Afrikaner-nasionalisme en slagofferskap die laaste paar jaar genormaliseer en hoofstroom gemaak het.
Ja, Media24 en RSG, ek wys die vinger na julle.
Ek was as ’n bloedjong Beeld-verslaggewer in Soweto op 16 Junie 1976 toe die geweld in alle erns losgebars het. Die verskriklike woede van die jong swart mense, baie van hulle net ’n jaar of wat jonger as ek, het my geruk. En al die plakkate en slagkrete het teen die afdwing van my moedertaal op swart skole geskreeu.
Afrikaans is die taal van die onderdrukker, en die onderdrukker is my mense, die wit Afrikaners. Ek het so half die Piet Retief-gevoel gekry.
Ek het amper dieselfde gevoel gekry toe ek die laaste paar dae die uitlatings van swart landgenote op Twitter/X, Facebook, YouTube, TikTok en op geselsradio beskou het nadat Donald Trump “vlugtelingstatus” aan Afrikaners en die einde aan alle steun aan Suid-Afrika aangekondig het.
Dis amper asof die goeie versoeningswerk van Afrikaanse mense soos die Betereinders, Leon Wessels, Breyten Breytenbach, Beyers Naudé, Roelf Meyer, Antjie Krog, Barend la Grange en vele ander die laaste dekades sommerso ongedaan gemaak word.
Al die mense van Suid-Afrika word nou gestraf omdat AfriSol (AfriForum en Solidariteit) se jarelange internasionale kruisvaart wat verklaar dat die wit Afrikaner vandag in sy/haar eie land onderdruk en bedreig word, uiteindelik in Trump, Elon Musk en die Maga-leërskare op vrugbare grond beland het.
Ek het myself nogal ongewild gemaak en was herhaaldelik die teiken van AfriForum se skerp tong toe ek die laaste paar jaar herhaaldelik teen AfriSol se intensiewe stemmingmakery onder regses in Amerika en Europa gewaarsku het.
Onthou, Flip Buys, Kallie Kriel en Dirk Hermann kom uit die ou KP/HNP-dampkring — Flip was ’n organiseerder van die hoogs rassistiese wit Mynwerkersunie en later lid van die Volkstaatraad. Dié mense se luide dreunsang was altyd dat die buiteland hom nie in Suid-Afrika se binnelandse sake durf inmeng nie. Mense wat sanksies teen die apartheidbewind goedgepraat het, is as verraaiers uitgekryt.
En noudat Suid-Afrika ’n oop demokrasie is, boonop ’n konstitusionele demokrasie met ’n regering van nasionale eenheid oor ideologiese en demografiese klowe heen, bepleit AfriSol sanksies teen Suid-Afrika.
In reaksie op die breë argwaan oor Trump se uitvoerende bevel oor Suid-Afrika sit Flip, Kallie en Kie skielik hulle patriotiese hoedjies op in mediakonferensie na mediakonferensie. Ons bly hier; ons wil nie hê gewone Suid-Afrikaners moet onder Trump se nuwe beleid swaarkry nie; dis nie ons skuld nie, dis Cyril s’n.
Wat het hulle gedink?
Nou wat het hulle gedink gaan hulle internasionale veldtog bereik as dit suksesvol is? ’n Diplomatieke nota aan Tuynhuys met ’n glimlag-emoji van die Withuis? ’n Gemoedelike “a nee a, kêrels” van Westerse regerings?
Flip en Kallie, julle skielike kastige patriotisme kom ’n bietjie te laat. Julle stel etniese nasionalisme bo die belange van ons land en sy mense. Julle het sanksies teen ons land gesoek en gekry, nou moet julle pa staan en nie julle hande in onskuld was nie.
My kollegas Piet Croucamp, bydraende redakteur van Vrye Weekblad, en Pieter du Toit, adjunk-redakteur van news24.com, het die laaste paar dae deeglik uitgewys dat Trump en Musk byna elke talking point van AfriSol napraat: Afrikaners se plase word summier afgevat; hulle word in hulle duisende op plase afgemaai; hulle kinders word ’n toekoms ontsê omdat hulle wit is; Afrikaanse skole gaan afgevat word; Afrikaners is tweedeklasburgers en kry swaar onder ’n rits raswette.
Die werklikheid is natuurlik gans anders: Wit werkloosheid is laer as in enige ander groep; geen enkele plaas is sedert 1994 gekonfiskeer nie; wit Suid-Afrikaners is per capita oorweldigend meer welgesteld as swart en bruin; mense word nie op plase aangeval omdat hulle wit en Afrikaans is nie; Afrikaans gedy meer as enige ander inheemse taal; ons grondwet verskans basiese menseregte en die oppergesag van die reg.
Afrikaanse mense kan gerus maar Afrikaans bevorder en beskerm, maar Afrikaners is geen slagoffers nie. Ons is saam met ander wit landgenote steeds die bevoorregtes wat heeltemal oorverteenwoordig in die beroepslewe en die ekonomie is.
Ons kla met goeie reg oor die vrotsige ANC, die verval, misdaad en korrupsie, maar ons ly veel minder as die swart werkersklas en werkloses daaronder. Die meeste van ons koop ons eie gesondheidsorg, sekuriteit en vervoer waar die staat ons skandelik in die steek laat.
Buys en Kriel het deesdae die nuwe gewoonte om met dié vraag op kritiek op die Solidariteit Beweging te reageer: Sou dit beter gewees het as ons nie daar was nie?
Dis so half soos ’n pa wat sy kinders mishandel, en dan in eie verweer sê: Maar ek gee vir hulle ’n dak oor hulle kop, kos en klere en ek betaal hulle skoolgeld.
Solidariteit is inderdaad ’n formidabele organisasie wat al baie bereik het met tersiêre opleidingsinstellings, beveiliging van sekere gemeenskappe, regsaktivisme en hulp aan arm Afrikaners.
Afrikaner Christelike nasionalisme
Die effektiwiteit en daadkragtigheid staan in skerp teenstelling met die onbeholpe staat en dit maak die beweging aantreklik vir selfs mense wat nie by die sentrale ideologie van Afrikaner Christelike nasionalisme inkoop nie.
AfriSol speel ’n oordonderende politieke rol, maar is self nie ’n politieke party nie en die leiers is nie verkose nie; hulle kan nie aanspreeklik gehou word nie; hulle agendas is hulle eie. Soos Elon Musk.
Die feit dat honderdduisende Afrikaners betalende lede van Solidariteit en AfriForum is, gee aan die beweging geen mandaat om namens “die Afrikaner” met Trump of enigiemand anders te onderhandel nie.
Hulle strategie is briljant: Ons demonstreer hoe dinge gedoen kan word; ons dryf handel in vrees en griewe, en hoe meer kapitaalkragtig ons word, hoe meer domineer ons die Afrikaanse diskoers. Ons is die enigste bul in die Boerekraal.
Veral Rapport, Beeld en RSG het die laaste paar jaar AfriSol se etniese Christelike nasionalisme genormaliseer deur hulle ’n “burgerregteorganisasie” eerder as Afrikanerregteorganisasie te noem en by elke moontlike geleentheid die beweging se bestuurslede ’n platform te gee.
Dié media verduidelik Suid-Afrika en die wêreld aan sy lesers en luisteraars deur die monde van Flip Buys, Kallie Kriel, Dirk Hermann, Ernst Roets en Jaco Kleynhans. Net gister weer. En dit terwyl AfriSol sy eie media het: Maroela Media, Pretoria FM en ander.
Natuurlik is die ANC ook aandadig daaraan dat Amerika nou sanksies teen Suid-Afrika toepas, die Agoa-handelsooreenkoms gaan skrap, ons dalk van die Wêreldbank en Internasionale Monetêre Fonds gaan afsny en Suid-Afrika se voorsitterskap van die Groep van 20 gaan ondermyn.
Die openlike gevryery met diktators soos Vladimir Putin en Xi Jinping en affiniteit vir Iran, Venezuela en Kuba was breinloos en roekeloos, tipiese ANC-hubris. Om vlootoefeninge saam met Rusland te doen terwyl dié land Oekraïne probeer oorneem, was waansin.
En laat ons nie vergeet dat die einste ANC wat nou so gebelg is, wel die grondwet probeer verander het om onteiening sonder vergoeding toe te laat – as hulle nie ’n broedertwis met die EFF opgetel het nie, sou dit deur die parlement aanvaar gewees het.
Suid-Afrika se internasionale geregshofsaak teen Israel se oorlogsmisdade in Gaza kan egter nie met reg teen ons gebruik word nie, en Suid-Afrika se saak word inderdaad deur vele lande soos Ierland, Spanje, België, Türkiye, Egipte en Mexiko ondersteun.
Ek stem saam met Steven Friedman, hoof van die Studie van Demokrasie aan die universiteite van Johannesburg en Rhodes, waar hy in sy jongste blog skryf dat die vooroordeel wat die “boelies” hier en in die VSA uitdruk, dieper wortels het as wat voorgegee word.
“Trump and Musk are deeply bigoted but they do not express their prejudice in the way that bigots, here and elsewhere, once did. They no longer claim that black people or women are inferior. And so they no longer demand discrimination against people who are not male and white.
“Instead, they insist that white men are the victims. And so they claim that they are not demanding that the law discriminates against others but that it protects white men from unfair restrictions.
“This supposedly non-racial concern for the underdog is, of course, phoney. Whites are not persecuted or deprived of their property here, or in the US, where Trump and Musk are also portraying white men as victims of decades of tyranny.
“What bothers them is that people who are neither white nor male no longer do as they are told or stay out of the living space of those who consider themselves their betters. For them, white people are victimised when they lose their power over others.”
Soos ’n voorval van padwoede
So wat staan ons te doen?
Ons moet dit soos ’n voorval van padwoede hanteer. As iemand jou in die verkeer afsny en, as jy jou ligte vir hom flikker, uitspring en jou wil donder of skiet, glimlag maar, maak ’n vredesoekende handgebaar en ry voort. Anders skiet hy jou dalk.
Maar ons kan nie voorgee asof iets nie fundamenteel geskuif het nie. Dit sal nie help as die ANC en die RNE bloot diplomatieke besoeke aan Washington bring nie. Trump is ’n transaksie-man, en hy hou ons ekonomie se toekoms in sy hande. Hy soek tasbare ondernemings en veranderings.
En asseblief, laat Cyril Ramaphosa en Ronald Lamola oor die jongste konflik praat, nie die ANC se wilde jakkalse, Gwede Mantashe, Nomvula Mokonyane of die woordvoerders van departemente en politici nie.
Dit gaan ’n bitter pil vir die ANC wees om te sluk, maar hulle moet dit in die nasionale (en uiteindelik hulle eie) belang sluk en maak of dit na suiker smaak.
En as jy ’n Afrikaner is wat hier lees, maak asseblief jou stem dik en laat weet jou landgenote op elke moontlike manier dat ons nie almal soos Flip en Kallie en Ernst en Dirk en Jaco is nie. Dat ons glo ons moet met ons eie landgenote en hulle politieke leiers in gesprek tree om ons probleme op te los, ons het nie buitelandse moondhede nodig nie.
“Ik wil niet loopen, k’ben een Africaander, al slaat den Landdrost myn doot, of al setten hij myn in den tronk ik sal nog wil niet swijgen.” — Hendrik Biebouw, 6 Maart 1707, by die Stellenbosse landroskantoor.
You have yourself a nice day now, pardner.
Max. DM
Hierdie artikel is oorspronklik in Vrye Weekblad gepubliseer.